Stellenbosch Universiteits Regskliniek se Missie
Een van die Stellenbosch Universiteits Regskliniek se hoofdoelwitte is die aanbieding van professionele kliniese regsopleiding aan regstudente, kandidaat-prokureurs en die breër gemeenskap. In lyn hiermee het die Regskliniek op 28 Maart 2018 ’n spesiale geleentheid aangebied waar Senior Advokaat en bekende outeur Chris Marnewick ’n bespreking gelei het oor verhooradvokatuur. Advokaat Marnewick se aanbieding het hoofsaaklik gefokus op kruisondervraging, asook die teorieë en tegnieke wat toegepas kan word om ’n meer effektiewe kruisondervraer te word. Personeel en studente wat die geleentheid bygewoon het, is aangemoedig om aktief aan die gesprek deel te neem. Bekende regsake soos die OJ Simpson-saak en die lopende Van Breda-saak is ontleed om die kruisondervragingstegnieke wat gebruik is, krities te evalueer en moontlike verbeterings voor te stel. Studente wat die sessie bygewoon het, het dit as “insiggewend” en “uiters leersaam” beskryf. Die Regskliniek beoog om in die toekoms meer sulke geleenthede te reël om regstudente se praktiese vaardighede verder te ontwikkel.