Wat Ons Doen

DIE SUID-AFRIKAANSE REGSISTEME KAN NET EFFEKTIEF WEES AS DIT TOEGANKLIK EN GELOOFWAARDIG IS IN DIE OË VAN DIE GEWONE BURGER. DIE REGSKLINIEK IS IDEAAL GELEË OM TOEGANG TOT GEREGTIGHEID VIR DIE ARMES EN GEMARGINALISEERDES UIT TE BREI.
Die Regskliniek is geleë te Crozierstraat 18–24 in Stellenbosch. Dit word bedryf as ’n volwaardige prokureursfirma wat regsdienste lewer aan mense wat arm en gemarginaliseerd is, en wat terselfdertyd finalejaar-regstudente en kandidaat regspraktisyns oplei in die praktiese toepassing van die reg. Die prokureurs en kandidaat regspraktisyns verskyn in verskeie regsforums in die Boland. Die Kliniek kweek ook ’n kultuur van burgerlike verantwoordelikheid deur middel van die aanbied van werkswinkels in verband met Grondwetlike regte, uitsettings, skuldverligting en gesinsgeweld.
Die Kliniek verskaf ook rugsteunregsdienste aan die satellietkantore in Ceres, Worcester en Bishop Lavis. Die Regskliniek se personeel staan arm en gemarginaliseerde persone by in ’n breë verskeidenheid siviele kwessies, soos uitsettings, egskeidings, gesinsgeweld en algemene siviele aangeleenthede. Die Regskliniek het ‘n gespesialiseerde fokus op plaasuitsettings, wat tans een van die heel belangrikste regskwessies in die Bolandstreek is. Uitsettings en die haweloosheid wat dit meebring, kan plaaswerkers en hulle kinders se basiese menseregte werklik bedreig – hulle raak uitgeworpenes met min hoop om weer blyplek te vind en hulle gesinslewe te beskerm.