Beskikbare Dienste
Die Kliniek ondersteun kliënte wat aan die vereistes vir regshulp voldoen met die volgende:
- Egskeidings en verwante aangeleenthede;
- Die opstel van testamente – mits die Kliniek nie daarin as eksekuteur benoem word nie;
- Uitsettings – as verteenwoordiger van die respondent(e); dit is, die individu(e) wat uitgesit word;
- Bystand met mondelinge verwysings na die Departement van Arbeid en na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA);
- Algemene siviele eise op grond van ’n kontrak of onregmatige daad, bv. skadevergoeding ingevolge ’n motorvoertuigongeluk-eis;
- Invorderings en gevalle van slegte skuld – as verteenwoordiger van die skuldenaar – asook aansoeke om die tersydestelling van ’n uitspraak;
- Naamskending, verbreking van troubeloftes (wat ’n huwelik óf verlowing betref), verleiding, egbreuk, inbreuk op privaatheid, verlies van integriteit, goeie naam of waardigheid en verwante eise – as verteenwoordiger van die verweerder;
- Gevalle waar die beskerming van kinders en hulle regte ’n geskilpunt is;
- Aansoeke om bevele in ’n landdroshof en die Grondeisehof wat met interdikte en mandamente van spolie verband hou; die Kliniek is nie by die afdwinging van sodanige bevele betrokke nie weens die koste daaraan verbonde, tensy befondsing deur middel van spesiale projekte verkry is; en
- Onderhoud- en gesinsgeweldsake, in ooreenstemming met die riglyne van Regshulp Suid-Afrika.
Onderhoud En Gesinsgeweld
Wat onderhoud en gesinsgeweld betref, mag Regshulp SA aansoekers wat deernisgevalle is met die volgende bystaan:
- ’n Aanvanklike konsultasie – om ’n moontlike party in ’n geding in te lig oor sy of haar regte, die prosedure wat gevolg moet word en die waarskynlikheid van suksesvolle vervolging of verdediging;
- Regsverteenwoordiging in sekere omstandighede
Regsverteenwoordiging by enige hofverrigtinge, maar slegs indien –
- Die ontvanger van die regshulp se eis(e) of verweer op ’n oorwig van waarskynlikheid behoort te slaag, en
- Die teenparty deur ’n toegelate regspraktisyn verteenwoordig word of self een is; regsverteenwoordiging in onderhoudsaangeleenthede kan ook verskaf word indien:
- Daar ‘n versuim deur die stelsel was om die aansoeker in staat te stel om die bevel vir ‘n tydperk langer as 12 maande te soek of uit te voer; of
- Daar misbruik van die stelsel deur die ander party is wat dit moeilik maak vir die toestaan of uitvoering van die bevel vir ‘n tydperk langer as 12 maande.
Met die volgende aangeleenthede verskaf die Kliniek nie regshulp nie:
- Gevalle waar daar geen regsbasis is nie, onder meer sake wat alreeds verjaar het;
- Gevalle waarin die kliënte nie aan die voorgeskrewe middeletoets voldoen om regshulp te ontvang nie;
- Gevalle waar die finansiële of geografiese perke van die Kliniek betrokkenheid uitsluit, behalwe waar spesiale fondse dit toelaat;
- Gevalle waar kliënte onhoudbare eise stel, byvoorbeeld deur vals of teenstrydige opdragte te gee, in welke geval die Kliniek noodgedwonge aan die saak sal onttrek;
- Werk in verband met spesialiteitsgebiede binne die regsberoep, bv. IT, patente en die registrasie van dranklisensies;
- Die registrasie van verbande en die oordrag van onroerende eiendom;
- Die opstel en registrasie van serwitute en huweliksvoorwaardekontrakte;
- Sekwestrasies, likwidasies, rehabilitasie en verwante aansoeke;
- Skuldberading;
- Artikel 74-administrasies en artikel 65-skuldinvorderings, met dien verstande dat die Kliniek skuldenaars sal verteenwoordig slegs indien die saak meriete het;
- Invorderings; Die Kliniek sal aanvaarbare gevalle namens klaers hanteer, maar slegs tot op die punt waar uitspraak gelewer word; lasbriewe vir eksekusie sal in die kliënt se eie naam uitgereik word;
- Eise teen die Padongelukkefonds;
- Eise weens mediese nalatigheid; Kriminele sake;
- Uitsetting – namens die aansoekers;
- Eise wat na die Hof vir Klein Eise verwys moet word; eise vir minder as R30 000 moet na die Hof vir Klein Eise verwys word, en van die bedrag bo R20 000 moet afstand gedoen word;
- Eise ingevolge die Wet op Kompensasie vir Beserings en Siektes aan Diens (Eng. COIDA);
- Naamskending, verbreking van troubeloftes (wat ’n huwelik óf verlowing betref), verleiding, egbreuk, inbreuk op privaatheid, verlies van integriteit, goeie naam of waardigheid en verwante eise as die eiser se verteenwoordiger. Die Kliniek sal ’n skriftelike waarskuwing aan die skuldige partye stuur en sal verweerders verteenwoordig in eise op grond van bostaande oorsake, indien die saak meriete het;
- Administrasie van bestorwe boedels;
- Aansoeke om vervangende betekening van dagvaarding, tensy die kliënt alle kostes wat sodanige stappe inhou, sal dra;
- Litigasie in die hoë hof, buiten om ’n egskeidingsgeding teen te staan.
- Egskeiding, indien die aansoeker met ‘n buitelander getroud is om daardie buitelander in staat te stel om Suid-Afrikaanse burgerskap te verkry.
- Beskeringmingsbevele / interdikte waar die ander party nie ‘n prokureur het nie.
- Onderhoudsaangeleenthede namens die respondent of ‘n meerderjarige kind.




