Hofuitspraak oor skuldbevele wys US se impak, sê Rektor

Die Hooggeregshofbeslissing Woensdag (8 Julie 2015) ten gunste van die Regshulpkliniek van die Universiteit Stellenbosch (US) se aansoek oor besoldigingsbeslagleggingsbevele (BBB’s) “is ʼn uitbeelding van ons strewe om ʼn positiewe impak op die samelewing te maak”.

Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, in reaksie op die uitspraak gesê. Hy het Regskliniek en ander betrokkenes gelukgewens.

“Ons gebruik graag ons kundigheid om oplossings te help vind vir maatskaplike uitdagings. Die US het hierdie saak in die openbare belang opgeneem.”

Me Wendy Appelbaum, ʼn sakevrou en die dryfveer agter die saak, het die uitspraak verwelkom. Sy het die Regskliniek in 2012 genader toe daar BBB’s teen van die werkers op haar wynplaas, De Morgenzon, bekom is.

“Ek het my eie navorsing begin gedoen en besef hier vind ʼn groot onreg plaas. Die Regskliniek was reeds besig met ʼn klomp sake, en dit was fantasties om met hulle saam te werk om dit ʼn wyer saak met grondwetlike gronde en verreikende implikasies te maak,” het sy gesê.

Die Regskliniek was die eerste applikant in die saak, tesame met 15 van sy kliënte – plaaswerkers, skoonmakers en veiligheidswagte van die omgewing wat om hulp aangeklop het nadat mikroleners hofbevele teen hulle bekom het om beslag te lê op ʼn groot deel van hul salarisse.

Regter Siraj Desai van die Hooggeregshof in Kaapstad het die betrokke BBB’s Woensdag “onwettig” en “ongeldig” verklaar. Hy het voorts ook bevind dat sekere bepalings van die Wet op Landdroshowe strydig met die Grondwet is.

“Die uitspraak is ʼn groot oorwinning – nie net vir die applikante nie, maar vir die armes in die geheel. Dit stel ʼn presedent wat hopelik die leningsbedryf gaan skoonmaak. En dit vestig die staat se aandag op sy plig om geregtigheid vir almal te laat geskied,” het Appelbaum gesê.

In sy uitspraak het Desai twee stelle besware geopper. Enersyds was daar nie voldoende geregtelike oorsig oor die betrokke BBB’s nie omdat die bevele deur klerke van die hof bemiddel is sonder ʼn besluit deur ʼn landdros. Die Wet op Landdroshowe het tot nou toe wel voorsiening gemaak vir so ʼn prosedure mits skuldenaars daartoe instem, maar Desai het bevind die skuldenaars is beïnvloed om vorms te teken wat hulle nie behoorlik verstaan het nie, of dat hul handtekening blatant vervals is.

Hy het hom sterk uitgespreek teen wat hy “roofdieragtige leningspraktyke deur kredietverskaffers” genoem het, en gesê die Ministers van Justisie en van Handel en Nywerheid, asook die Nasionale Kredietreguleerder, die Menseregtekommissie en die Regsvereniging moet “alle nodige stappe neem om skuldenaars in kennis te stel van hul regte ingevolge hierdie uitspraak”.

Desai se ander hoofbeswaar is dat bevele van hierdie aard dikwels verkry word van howe ver van skuldenaars se woon- of werkplekke. Dit belemmer hul se reg om die howe te nader, en berus boonop op ʼn waninterpretasie van die Wet op Landdroshowe.

Die uitspraak skets die omstandighede wat daartoe gelei het dat die applikante in die knyp beland het. Hulle word beskryf as mense met ʼn “lae inkomste” wat hul families op salarisse van “tussen R1 200 en R8 000 per maand” onderhou. Hulle het lenings gekry om die pot aan die kook te hou – teen “rentekoerse van 60% per jaar”.

“Lenings is toegestaan sonder inagneming van die aansoekers se geldelike posisie en verpligtinge. In sekere gevalle het hul terugbetalings meer as 50% van hul maandelikse inkomste beloop. Dit was roekelose lenings, en is dus nie verbasend dat die aansoekers agter geraak het met hul terugbetalings nie,” het Desai gesê.

Hy voer aan ʼn “skuldenaar sal dalk toegee dat hy agter geraak het, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat hy sal instem tot onbekostigbare premies wat van sy salaris verhaal moet word, en dat die saak beslis moet word in ʼn hof waartoe hy nie toegang het as hy die ongenaakbare voorwaardes van sy beslagleggingsbevel wil betwis nie”.

Hy het beslis van die respondente – spesifiek al die mikroleners behalwe een wat nie die aansoek teengestaan het nie, en hul regsfirma wat gebruik is om skuld in te vorder – moet die applikante se regskoste dra. Die regsfirma Webber Wentzel het pro bono opgetree.

Me Odette Geldenhuys van Webber Wentzel het verduidelik slegs die Grondwetlike Hof kan wetgewing ongrondwetlik verklaar, en dus moet Desai se uitspraak dat sekere artikels van die Wet op Landdroshowe ongrondwetlik is, vir bevestiging verwys word.

Desai het uitgewys “miljoene mense landswyd is weens misbruik van die BBB-stelsel in ʼn soortgelyke situasie vasgevang”.

Geldenhuys het benadruk dat nie alle BBB’s nou eensklaps ongeldig is nie. “Die hof het nie ʼn probleem met BBB’s as sodanig nie – net as dit misbruik word en onregmatig bekom is. As jy ʼn BBB teen jou het, vat al jou dokumente na ʼn prokureur of advieskantoor of Regskliniek toe sodat hulle kan kyk of daar ongerymdhede is.”

Me Mathilda Rosslee, Koördineerder van die Regskliniek se Finansiële Geletterdheidsprojek, sê sy en haar kollegas hanteer “baie sulke sake”. Sy alleen het jaarliks gemiddeld 163 skuldverwante sake op haar lessenaar.

“Ons gaan wel ook proaktief te werk deur opleiding in skole en op plase aan te bied oor geldsake. Ons glo dat kennis mense bemagtig, en dat ons sodoende ʼn toename van hierdie probleme kan teenwerk,” het sy gesê.

Die US se Regskliniek funksioneer as ’n volwaardige prokureurskantoor wat gratis regsdienste bied aan behoeftiges, terwyl daar terselfdertyd opleiding verskaf word aan finalejaarstudente en kandidaatprokureurs. Sy prokureurs en kandidaatprokureurs verskyn in landdroshowe dwarsoor die Boland, en die Regskliniek verleen ook ondersteuning aan advieskantore in Ceres, Klapmuts, Worcester en Franschhoek. Die
Regskliniek bied voorts werkswinkels aan oor uitsetting, skuldverligting en gesinsgeweld.

“Die Suid-Afrikaanse regsstelsel kan slegs doeltreffend wees as dit toeganklik en geloofwaardig is in die oë van gewone mens. Ons dra hiertoe by deur bystand te verleen aan diegene wat regshulp benodig maar dit nie kan bekostig nie,” het mnr Kruger van der Walt, Direkteur van die Regskliniek, gesê.