Goeie Nuusberig

Goeie Nuusberig: Die Regskliniek van die Universiteit Stellenbosch het suksesvol teen ’n uitsettingsbevel geappelleer wat teen ’n gesin van agt toegestaan is
Die Valentine-gesin het aan die begin van 2017 die Universiteit Stellenbosch Regskliniek (“die Kliniek”) genader vir hulp met ‘n uitsettingsaansoek wat teen hulle gebring is. Kandidaatprokureur Danielle Louw het die gesin bygestaan in hul teenkanting teen die uitsettingsaansoek. Die Valentines, wie op ‘n eiendom in Worcester woon, is ‘n gesin van agt, bestaande uit vier volwassenes en vier minderjarige kinders. Mnr Valentine is werkloos, maar werk soms as ‘n tuinier, terwyl me Vorster, sy lewensmaat, as ‘n huishulp werk. Die Valentine-gesin ontvang ‘n baie klein inkomste en is sedert 1996 op die plaaslike munisipaliteit se waglys vir behuising geregistreer. As sodanig is die gesin afhanklik van hul plaaslike munisipaliteit om alternatiewe behuising te verskaf indien hulle uitgesit en dakloos gelaat word.
Louw het teenkantingsdokumente opgestel, die Valentines in die hof verteenwoordig en vergaderings met die Breedevallei Munisipaliteit bygewoon in ‘n poging om alternatiewe akkommodasie vir die gesin te bekom. In ‘n beëdigde verklaring deur die Munisipale Bestuurder het die munisipaliteit versoek dat, sou die hof ‘n uitsettingsbevel uitreik, sodanige bevel uitgestel word totdat die munisipaliteit in staat is om die gesin te help met ‘n huurwoning of ‘n eenheid in hul grootskaalse behuisingsprojek, naamlik die Transhex-projek, in Junie 2018.
Argumente is in die Landdroshof aangehoor, waar Louw onder andere aangevoer het dat, in die lig van ‘n onlangse Grondwetlike Hof-beslissing, ‘n uitsettingsbevel teen die Valentines, onder omstandighede waar ‘n werklike risiko van dakloosheid bestaan, nie regverdig en billik kan wees nie en dus nie aan die bepalings van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, Wet 19 van 1998, voldoen nie. Die hof het egter ‘n bevel toegestaan wat die gesin uit hul huis moes verwyder, met ‘n sperdatum van 2 Januarie 2018 om die eiendom te verlaat.
Ontevrede met hierdie besluit het Louw, na konsultasie met haar voormalige prinsipaal, tot die gevolgtrekking gekom dat die beslissing om die gesin uit te sit nie regverdig en billik was nie. Met die pro bono-bystand van advokaat Fiona Gordon-Turner is ‘n appèl by die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof ingedien. Argumente is op 1 Junie 2018 in die Hooggeregshof aangehoor.
Gordon-Turner het aangevoer dat die Landdroshof ‘n uitsettingsbevel verkeerdelik toegestaan het omdat die bevel nie as regverdig en billik beskou kon word nie. Die Hooggeregshof het saamgestem en beslis dat die Landdroshof “‘n wesenlike dwaling begaan het deur te bevind dat dit regverdig en billik was om ‘n uitsettingsbevel toe te staan, terwyl dit duidelik was dat daar ‘n werklike risiko van [Valentines] dakloosheid was.” Derhalwe het die Hooggeregshof beslis dat die appèl suksesvol is en die Landdroshof se bevel tersyde gestel.
Die Valentine-gesin hoef dus nie hul huis te verlaat nie en woon steeds in hul huis in Worcester.

