Regspan Bereik LexisNexis Moot Hof-Finaal

Die Regsfakulteit het twee spanne gestuur om deel te neem aan die 2017 Nasionale LexisNexis moot hof-kompetisie, wat van 4 tot 8 Oktober 2017 in Pretoria plaasgevind het. Hierdie spanne het elk uit twee studente bestaan (me. Kathleen Henning en me. Jodie Muller, en me. Gretchen Jansen en mnr. Earl Coleman), wat gekies is uit die toppresteerders in die proefverhoor-komponent van die fakulteit se Kliniese Regsopleiding-module, Praktiese Regsopleiding 471. Die twee spanne is vergesel deur hul afrigters van die Regshulpkantoor, mnr. Stephan van der Merwe en mnr. Chris Julius. Die fakulteit se mnr. Cobus Jooste (intellektuele eiendomsreg) en mnr. Bernard Wessels (deliktereg) het ook voorbereidende bystand aan die spanne verleen. Alhoewel albei spanne puik vertonings gelewer het, het een span (Kathleen en Jodie) al hul rondes gewen en tot die halfeindronde gevorder, waar hulle as verdienstelike wenners uit die stryd getree het teen die hoogaangeskrewe span van Rhodes Universiteit. In ‘n taai eindronde het Stellenbosch verloor teen die gasheerspan van die Universiteit van Pretoria.

Die deelnemers van Stellenbosch was eensgesind in hul waardering vir die geleenthede wat ’n kompetisie soos hierdie bied vir die ontwikkeling van hul regskennis:

“Alhoewel die week voor die kompetisie (asook die kompetisie self) gevul was met navorsing, voorbereiding en senuwees, was dit ‘n buitengewone genotvolle en opvoedkundige ervaring. Die situasie het ons nie net gedwing om goed vertroud te raak met die relevante regsleer en regspraak nie, maar het ons ook geleer om ons gedagtes en idees op ‘n duidelike en logiese manier uit te druk.” – Kathleen Henning

 

“Dankie vir hierdie ongelooflike ervaring. Sonder dit sou ek nooit ontdek het hoeveel ek werklik van moot hof hou nie, en nou is my enigste spyt dat dit my finale jaar is en ek nie weer so ‘n geleentheid sal hê nie. Dankie vir die blootstelling en die kans om belangrike vaardighede aan te leer, soos hoe om my argumente te struktureer en hoe die reg in die praktyk toegepas word. Ek is ook dankbaar vir die tyd, moeite en finansiële hulpbronne wat in die week belê is, en die vertroue wat in ons as ‘n span gestel is. Dit was ’n waardevolle ervaring wat ek altyd sal koester.” – Jodie Muller