Regskliniek Verwelkom Geagte Gaste

Op 3 April 2018 het die Stellenbosch Universiteit Regskliniek verskeie hooggeplaaste gaste van regoor die wêreld uitgenooi vir ’n koppie koffie en ’n kort toer deur die Kliniek. Die gaste wie teenwoordig was sluit in: Andrew Goodman, ’n bemiddeling- en arbitrasiekenner van die Verenigde Koninkryk; die Geagte Regter Mary Lim van Maleisië, wie in die Maleisiese appèlhof dien en spesialiseer in intellektuele eiendomsreg; Senior Advokaat Phillip Greenwood van Australië, wie spesialiseer in professionele nalatigheid, versekeringsreg en tegnologiedispute; en Louis Podbielski, die produkontwikkelingsbestuurder van regsdatabasisse by LexisNexis.
Verder het die visedekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, Professor Geo Quinot, ook by die besoek aangesluit. Hierdie gaste was in Stellenbosch vir die International Advocacy Training Council-konferensie, en die Regskliniek het dit goedgedink om hulle te nooi, veral aangesien die Kliniek se eie Stephan van der Merwe ook ’n spreker by die konferensie was. Die gaste het ’n kort toer van die Kliniek ontvang, waarna Dr. Theo Broodryk, oor ’n koppie koffie, verduidelik het presies wat die Kliniek doen: hoe dit die publiek bystaan en terselfdertyd studente en kandidaat-prokureurs oplei. Die gaste het ook die geleentheid gekry om met sommige van die studente te gesels wat deel van hul finalejaar-module, Praktiese Regsopleiding, by die Kliniek voltooi. Andrew Goodman en Phillip Greenwood SC het ’n boeiende gesprek met die studente gevoer oor die belangrikheid van alternatiewe geskilbeslegting (AGB) en hoe instellings soos die Regskliniek die implementering van AGB in sake kan bevorder. Teen die einde van die besoek het die gaste elkeen hul belangstelling in die groei van die Regskliniek uitgespreek en verskeie maniere voorgestel waarop hulle die Kliniek kan ondersteun in sy kliniese opleiding—insluitend die verskaffing van boeke, moontlike uitruilprogramme en die opleiding van professionele regsverslaggewers.