Prof Bryer besoek die Regskliniek

Op 19 April 2018 het die Regskliniek ‘n besoek ontvang van die internasionale akademikus, Prof Thomas Bryer, van die UCF College of Health and Public Affairs. Prof Bryer is ’n kenner op die gebied van Gemeenskapsbetrokkenheid en Universiteits-Gemeenskapverhoudings en het versoek om die Kliniek te besoek as deel van sy huidige navorsingsfokus. Hy is veral geïnteresseerd in die rol wat die Kliniek speel in die bevordering van maatskaplike verandering, wat die onderwerp is van die boek waaraan hy tans werk:
“Rethinking University and Community Policy Connections” is ’n publikasie wat werke van akademici, praktisyns en ‘prak-ademici’ van verskeie lande insluit. Dit ondersoek wesenlike beleids- en bestuurskwessies in die samewerking tussen hoëronderwysinstellings en gemeenskapsgebaseerde organisasies, nieregeringsorganisasies, regerings en besighede. Sulke vennootskappe bied unieke geleenthede om praktyke te hervorm, innovasie te ontwikkel, entrepreneurskap te bevorder, gemeenskappe te versterk en lewens te transformeer. Tog word hierdie potensiaal dikwels belemmer deur burokratiese, kulturele of wetlike hindernisse tussen universiteite en die breër gemeenskap. Die globale ervaring toon baie ooreenkomste, hoewel die spesifieke meganismes wat universiteit-gemeenskapsamewerking belemmer of suksesvolle en volhoubare vennootskappe moontlik maak, van land tot land verskil. Boeke in hierdie reeks sal ’n dialoog oor internasionale ervarings bevorder, beste praktyke identifiseer en die teorie rondom universiteit-gemeenskapverhoudings versterk.