REGSHULPKLINIEK LEER ANDER OP

Die Regskliniek wat deel vorm van die Universiteit Stellenbosch (US) se Regsfakulteit, het betrokke geraak by projekte vir finansiële geletterdheid om individue se fundamentele grondwetlike regte te bevorder.

Op 8 Julie 2015 het Regter Siraj Desai ten gunste van die US Regskliniek beslis dat ’n beslagleggingsbevel op salaris, wat in ’n ander jurisdiksie as waar die individu woon en werk uitgereik is, onwettig is en dat ’n bevel wat deur die griffier van die hof uitgereik word, ongrondwetlik is.

Hierdie uitspraak het ’n landwye impak op die krediet- en regsveld en beïnvloed alle vlakke van die samelewing. Ná Regter Desai se uitspraak in 2015 het die kliniek verskeie projekte geloods om mense op te lei oor hul regte en finansiële sake.

Volgens Chantelle Louw, organiseerder van die Finansiële Geletterdheid-projekte, is die doelwit van hierdie inisiatief nie net om studente se sukses en indiensneembaarheid te verseker nie, maar ook om te wys hoe intellektuele hulpbronne kan bydra tot die oplossing van sosio-ekonomiese uitdagings.

Die Finansiële Geletterdheid-projek (FLP) bestaan uit deelnemers van beide die Regs- en Bestuurswetenskappe Fakulteite. Die doel is om ’n multikulturele begrip van finansiële geletterdheid te ontwikkel.

Die Finansiële Geletterdheid-projek (FLP) bestaan uit deelnemers van beide die Regs- en Bestuurswetenskappe Fakulteite. Die doel is om ’n multikulturele begrip van finansiële geletterdheid te ontwikkel.

“Daar is plaaswerkers wat basiese finansiële geletterdheidsvaardighede kortkom – dinge soos hoe om ’n begroting op te stel, te spaar of vir hul finansiële toekoms te beplan. Dit val binne die kennisgebied van finansiële beplanningsstudente. Aan die ander kant is daar individue wat reeds oorverskuldig is en nie weet waarheen om te draai of watter regte en oplossings beskikbaar is nie. Dit is waar ons regstudente hul regskennis kan gebruik om te help,” sê Louw.

Die FLP fokus tans op bemagtigingsessies vir sekondêre skoolleerders sowel as plaaswerkers. Hierdie sessies is daarop gemik om individue sonder basiese finansiële kennis die nodige vaardighede te gee om gesonde ekonomiese besluite te neem.

Die langtermyndoelwit is om ’n manier te bied waarop gemeenskapslede uit armoede kan beweeg.

Louw voeg by dat breër gemeenskapsbetrokkenheid en ’n interdissiplinêre benadering help om volhoubare vennootskappe te bou wat sosio-ekonomiese uitdagings doeltreffend kan aanspreek.

Studente wat vrywillig aan die projek deelneem, trek ook baie voordeel daaruit.

“Dit gee studente die geleentheid om kliëntkonsultasies by te woon en hulle bloot te stel aan alledaagse sosio-ekonomiese uitdagings wat ’n negatiewe impak op die gemeenskap het,” sê Louw.

Foto: Dané Dooge