Regskliniek Het Hervestig

Die Regskliniek, wat ’n groot aantal individue in die Boland-streek bedien het, gaan vanaf 11 Desember 2017 in ’n nuwe perseel funksioneer.
As deel van sy strategiese doelwitte, en in samewerking met die Regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch (US), sal die Regskliniek skuif vanaf Banhoekweg 44 na Crozierstraat 18-24.
Volgens Theo Broodryk, Bestuurder van die Regskliniek en Senior Lektor aan die Regsfakulteit, sal hierdie skuif beter integrasie met die Regsfakulteit moontlik maak en makliker toegang vir huidige en toekomstige kliënte verseker, veral vir dié wat van openbare vervoer afhanklik is.
“Die skuif het bloot meer praktiese sin gemaak. Deur in Crozierstraat te wees – reg oorkant die Regsfakulteit (geleë in die Ou Hoofgebou op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat) en naby die Stellenbosch Landdroshof – sal ons meer regstudente kan bereik wat by die kliniek betrokke wil raak. Dit sal ons ook help om gemeenskapslede wat regshulp benodig, beter te bedien.”
Broodryk meen dat die vorige ligging van die kliniek nie die Regsfakulteit se doelwitte vir sosiale bewusmaking ten volle ondersteun het nie.
“Die kliniek was ietwat weggesteek vir regstudente, hoewel dit steeds toeganklik vir die res van die universiteit was. Nou dat dit soveel nader aan die fakulteit is, skep dit ‘n beter geleentheid om hulpbronne te deel en kliënte van ‘n selfs beter diens te voorsien.”
Die Regskliniek funksioneer soos ‘n regsfirma en is deel van die US Regsfakulteit. Dit speel ook ’n belangrike rol in die opleiding van toekomstige menseregte-prokureurs, deur praktiese regsopleiding aan finalejaarregstudente te bied.
“Met die nuwe perseel kan ons praktiese opleiding aan nog meer regstudente bied. Op die oomblik kon ons net sowat 50 tot 60 studente per jaar oplei of as vrywilligers betrek, maar met die nuwe ligging kan ons daardie getal teen 2019 tot sowat 200 verhoog,” sê Broodryk.
As deel van die US se eeufeesvieringe in 2018, beplan die Regskliniek ook ’n herbekendstelling en herbranding.
Die kliniek sal tot 11 Desember 2017 bedryf word by die ou perseel, en dan vanaf 15 Januarie 2018 weer sy deure vir die publiek open.