Regskliniek Brei Uit

Stephan van der Merwe, senior prokureur by die Stellenbosch Regskliniek, is genooi om gedurende November 2017 verskeie Universiteitsregsklinieke in die Verenigde Koninkryk te besoek. Hy sal tyd spandeer by die Coventry Regskool in Engeland om deel te neem aan besprekings en navorsing oor die oprigting van ‘n Kliniese Regsopleiding (CLE) Aanlyn Internasionale Leerprogram. Gedurende sy verblyf daar, sal hy die hoofspreker wees by ‘n CLE-minikonferensie wat deur die Coventry Regskool gereël word. In Londen sal hy ook die regsklinieke van verskeie gesogte universiteite besoek, insluitend King’s College, Queen Mary University en London South Bank University.

Stephan sal ook die Glasgow Caledonian en Strathclyde Universiteit Regsklinieke in Glasgow, Skotland besoek, voordat hy tyd spandeer by die Universiteit van Aberdeen, waar hy ‘n gasklesing sal aanbied met die titel: “Lewens verander en (soms) die reg verander: ’n Illustrasie van die werk van Universiteitsregsklinieke”. (Lees meer hier) Hierdie lesing sal fokus op die werk van die Stellenbosch Regskliniek in die verandering van Suid-Afrika se regslandskap rakende skuldinvordering, na aanleiding van die Konstitusionele Hof se beslissing in Universiteit Stellenbosch Regskliniek & Andere v Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste & Andere; Association of Debt Recovery Agents NPC v Kliniek & Andere; Mavava Trading 279 (Edms) Bpk & Andere v Kliniek & Andere [2016] ZACC 32.

Die Regskliniek is baie entoesiasties oor die geleenthede wat hierdie projek bied om bestaande internasionale verhoudings te versterk en nuwe netwerke te bou vir die Kliniek, Regsfakulteit en die Universiteit Stellenbosch. Dit sal die Kliniek in staat stel om sy beeld en reputasie as ‘n belangrike rolspeler in die internasionale Kliniese Regsopleidingsomgewing te versterk. Hierdie samewerking sal ook studente se internasionale en interkulturele bewussyn verhoog, hul oordraagbare vaardighede in ‘n globale konteks verbeter en hul aanlyn kommunikasievaardighede in akademiese en professionele omgewings ontwikkel.